Plaaslike vraag na ivermektien daal skerp

Ivermektien was op ‘n stadium uitverkoop in Namibiese winkels en daar was selfs ‘n wêreldwye tekort aan dié dieremedisyne wat sommige mense as behandeling teen Covid-19 gebruik. Perde-eienaars in Amerika wat ivermektien gebruik om hulle diere te ontwurm, sukkel om dit in die hande te kry. Die landboubedryf in Florida loop ook deur omdat die produk uitverkoop is. In sommige gevalle het die prys van ivermektien meer as verdubbel in die VSA. Maar vraag het plaaslik afgeneem. Goi Geurtse, Swavet se bestuurder in Namibië, het aan Kosmos 94.1 Nuus gesê hulle het genoeg voorraad van alle formate van ivermektien.