Petrolprys: meer brandstof sal uit Angola ingesmokkel word

Die styging in die brandstofprys kan volgens plaaslike berigte die smokkelary van brandstof uit Angola ‘n hupstoot gee. Die onwettige invoer van Angolese petrol is reeds ‘n geruime tyd ‘n baie groot uitdaging vir owerhede en die Namibiese minister van myne en energie Tom Alweendo het onlangs met belanghebbendes en rolspelers by Oshikango in die verband vergader. Daar is reeds uitdagings met die poreuse grens in die noorde van die land en die prys van Angolese petrol is net meer as 4 Namibiese dollar per liter teenoor die 14 dollar 45 sent wat dit om middernag in Walvisbaai sal kos. Die brandstof voldoen nie aan Namibiese standaarde nie en word nie veilig vervoer of geberg nie. Vulstasies verloor inkomste en die regering verloor noodsaaklike heffings op ingesmokkelde brandstof.