Peiling: SA se paaie blykbaar die gevaarlikste – Namibië is nie ingesluit nie

Volgens die jongste studie deur ‘n aanlyn bestuurders-onderrigmaatskappy, Zutobi, is Suid-Afrika die gevaarlikste land om in te bestuur. Die studie gee elke land ‘n telling uit tien, gebaseer op vyf faktore: die geskatte padsterftesyfer, maksimum spoedbeperking, koers van mense wat hulle veiligheidsgordel dra, padsterftesyfer wat aan alkohol toegeskryf word en die beperking op alkoholvlakke in bestuurders se bloed. Daar is geen data oor Namibië in die peiling ingesamel nie, maar Namibië het die hoogste padsterftesyfer per kapita in die wêreld met die jongste syfers van 45 sterftes per 100 000 inwoners wat in 2014 bekend gemaak is. Noorweë is die tweede agtereenvolgende jaar aangewys as veiligste land om in te bestuur, gevolg deur Ysland en Estland.