PDM geskok oor toestand van Engela-staatshospitaal

‘n Parlementslid van die PDM, Hidipo Hamata, is geskok oor die toestand van die Engela-staatshospitaal in die Ohangwena-streek in die Noorde. Volgens hom werk die kragopwekker nie by die hospitaal nie en dokters moet operasies met behulp van hul selfoon-ligte uitvoer. Hamata sê daar is ook geen wasgoeddienste beskikbaar nie en vuil beddegoed moet na die staatshospitale van Oshakati en Onandjokwe geneem word. Die hospitaal is ook sonder ‘n riool-pompstasie en die lykshuis kan net 12 liggame berg met drie van die 15 laaie wat buite werking is.