Pat Benetar los liedjie oor skietvoorvalle

Die Amerikaanse sanger Pat Benatar sal nie meer haar liedjie “Hit Me with Your Best Shot” by vertonings sing nie, uit respek vir Amerikaanse gesinne wat deur massaskietvoorvalle geraak word. Benatar sê haar siening van die liedjie se lirieke, wat die woorde “fire away” insluit, het verander. Daar was meer as 350 massaskietvoorvalle regoor die Verenigde State sedert die begin van die jaar, volgens Gun Violence Archive. Die tong-in-die-kies-liedjie, geskryf deur Eddie Schwartz en in 1980 as ‘n enkelsnit vrygestel is, het Benatar se eerste Top 10-treffer op Billboard 100 geword.  In November sal Benatar saam met Eminem, Dolly Parton, Duran Duran, Lionel Richie, Eurythmics en Carly Simon in die Rock and Roll Hall of Fame opgeneem word.