Pastoor, medebeskuldigde bly in aanhouding na konkoksie drie gemeentelede laat sterf

Die pastoor van die Prophet of Victory Church in die Mutengo-nedersetting en ‘n medebeskuldigde het vandag op drie klagte elk in die Kahenge-landdroshof in die Kavango-Wes-streek verskyn nadat drie gemeentelede gesterf het na hulle ‘n konkoksie anaal toegedien is. Die pastoor, die 25-jarige Hamutenya Engelberth, en sy 36-jarige medebeskuldigde, Elia Ihemba, het elk op drie klagte van moord met ‘n alternatief as strafbare manslag en poging tot moord verskyn. Hulle is borgtog geweier en hul saak is tot 12 Januarie volgende jaar uitgestel.