Padfondsadministrasie wil N$500m se skuld afskryf

Die Padfondsadministrasie vra die parlement se goedkeuring om 500 miljoen Namibiese dollar wat hy geskuld word, af te skryf. Die skuld kom van onbetaalde lisensiefooie sowel as rente en boetes. Volgens die administrasie kan die skuld nie meer ingevorder word nie as gevolg van tesourie-wetgewing. ‘n Wysiging in die administrasie se wetgewing is nodig om die skuld af te skryf. Volgens die adjunk-finansminister Maureen Hinda-Mbuende is die skuld nie net afkomstig van motors wat nie ge-deregistreer is nie maar ook as gevolg van Covid met sakelui en individue wat nie die nodige fooie kon betaal nie. Die sogenaamde voorgeskrewe skuld is skuld wat in drie jaar nie erken is nie. Die aankondiging van die 500 miljoen dollar se skuld kom kort op die hakke van die aankondiging van die administrasie om tolhekke op te rig om blykbaar broodnodige fondse in te win.