OVK publiseer gewysigde tydskedule vir verkiesings in Staatskoerant

Die Onafhanklike Verkiesingskommissie het die gewysigde tydskedule vir die munisipale verkiesing in die Staatskoerant gepubliseer. Partye en onafhanklike kandidate het tot Donderdag, 23 September tyd om die OVK se versoeke te beantwoord, wat indiening van afskrifte van ID’s en ondertekende aanvaarding van nominasievorms insluit. Die OVK sal dan ook die inspeksie en besware teen die kieserslys afsluit. Vrydag, 24 September, sal die kommissie ‘n besluit neem oor besware teen die kieserslys. Partye en onafhanklike kandidate sal ook in kennis gestel word indien hulle op verskeie partylyste verskyn, sodat teenstrydighede reggestel kan word.