Oudpremier van Israel onderhandel vir ‘n pleitooreenkoms oor sy korrupsieverhoor

Onderhandelings oor ‘n pleitooreenkoms tussen Israelse aanklaers en Benjamin Netanyahu kan moontlik die einde beteken van die oudpremier se korrupsieverhoor, maar kan terselfdertyd ‘n krisis ontketen vir die agtparty-koalisie wat hom in Junie uit die kussings gelig het. Volgens internasionale nuusagentskappe sê bronne in regskringe, vertroud met die onderhandelings, dat Netanyahu, wat teregstaan op aanklagte van omkopery, bedrog en ‘n vertrouensbreuk, met Israel se prokureur-generaal oor ‘n pleitooreenkoms onderhandel. Spekulasie oor dié moontlike ooreenkoms, en oor die uitwerking daarvan op die politiek, het Israelse media dié week aan die gons.