Ou parlementsgebou heeltemal in brand verwoes

Die Kaapstadse burgemeesterskomiteelid vir Veiligheid en Sekuriteit, JP Smith, sê die ou parlementsgebou is heeltemal verwoes in gister se brand en om die skade te herstel sal honderde miljoene rand kos. Hy het verduidelik dat die temperatuur in die omgewing nog steeds sowat 100 grade is, wat dit moeilik maak om die presiese omvang van die skade te bepaal. Drie van die vier verdiepings bokant die ou parlement is ook ernstig beskadig. Hoewel die ou Raadsaal ook deurgeloop het, is die skade volgens hom, beperk. Intussen het verskeie politieke ontleders gereageer op die brand. Sandile Swana het gesê die voorval wys die land en die gemeenskap se sekuriteit is in gedrang.