Orano gaan groen by ontsoutingsaanleg

Die Franse kernreus Orano gaan sy Erongo-ontsoutingsaanleg met ‘n 5 megawatt-piek sonkrag-fotovoltaïese aanleg toerus. Die groep het pas ’n kragkoopooreenkoms met InnoSun onderteken vir die bou en bedryf van dié fasiliteit. Benewens die vermindering van die energiekoste wil die maatskappy ook sy koolstofvoetspoor verklein. Kragtens die bepalings van die kontrak sal InnoSun ‘n sonkragaanleg finansier, bou en bedryf om Orano se ontsoutingsaanleg in Wlotzkasbaken te voorsien. Daar word verwag dat uraan-reuse weer bedrywighede aan die kus sal hervat namate die uraanprys verbeter. Die ontsoutingsaanleg is gebou om vars water aan die Trekkopje-uraanmyn te verskaf via ‘n 40 kilometer pyplyn. Op die oomblik word die ontsoute water aan NamWater verkoop.