Opul stoot weer produksie op

Opul en sy bondgenote het hul beleid gehandhaaf om olieproduksie volgende maand net effens te verhoog, omdat die Omicron-variant tot dusver nie die vraag ernstig geraak het nie. Ná ’n aanlyn-vergadering gister, sê die groep hulle het ingestem om die uitset in Februarie met 400 000 vate per dag te verhoog, na dieselfde vlak as in vorige maande. Daar word berig die groepering, insluitend die top-produsente Saoedi-Arabië en Rusland, het Amerikaanse druk weerstaan vir ‘n groter produksie en lewering in reaksie op hoë energiepryse wat wêreldwyd inflasie laat styg het.