Oorplaatjies moet eers bepaal word voor vervoerpermit uitgereik word

Die Namibiese landbouministerie sê voorafbepaalde oorplaatjies sal nou van toepassing wees op alle vervoerpermitte in die land. Die stelsel word ten volle geïmplementeer op 1 Junie vanjaar en dus sal alle plaatjie-nommers by die aansoek vir die vervoerpermit ingedien moet word. Volgens dr. Albertina Shilongo, die hoof van die Veeartsenydirektoraat sal dit verseker dat alle diere ingevolge die Dieregesondheid-wet geregistreer is, en dat die regulasies in verband met identifikasie van diere, nagekom word. Vee-eienaars word aangemoedig om hul naaste staatsveearts te besoek om ‘n kudde verklaring te bekom om te verseker dat alle plaatjies geverifieer is. Shilongo voeg by dat verifiëring vyf dae voor die vervoer gedoen moet word.