Onwettige houtkappery duur voort in noordooste

Die Namibiese omgewingsministerie het sy kommer uitgespreek oor onwettige ontwouding, veral in die Zambezi-streek. Volgens die ministerie se woordvoerder, Romeo Muyunda, is veral beskermde gebiede in die streek in gevaar omdat buitelanders daagliks onwettig die grens oorsteek en hout kap. Daar is die week berig oor twee buitelanders, ’n Zambiese en Zimbabwiese burger wat in die hof in Katima verskyn het op aanklagte van onwettige kap van hout in Namibië. Die 60-jarige Domingo Armando, ‘n Zambiese burger en sy makker die 50-jarige Thomas Mupfugami, van Zimbabwe se saak is tot 20 Januarie uitgestel. Die twee het nog nie gepleit nie en bly in aanhouding. Die Zambiese verdagte se trekker en sleepwa, wat in Zambië geregistreer is, is geskut.