Ontwikkelingsbegroting suip aan die agterspeen

Daar word berig dat die 2,9 miljard Namibiese dollar wat die regering uitgehaal het om staatsamptenare ‘n verhoging te gee, en wat ses keer meer is as die 500 miljoen dollar ekstra wat aan ontwikkelingsprojekte gegee is, nie produktiwiteit ‘n hupstoot sal gee nie. Volgens die Tender Bulletin, is daar in September, halfpad deur die huidige finansiële jaar amper 50 persent van die operasionele begroting, wat salarisse en betalings insluit, reeds bestee maar net ‘n skamele 38 persent van die ontwikkelingsbegroting, wat kapitaalbeleggings insluit, bestee. Die swakste presteerders in die vorige boekjaar is finansies wat nul persent bestee het, visserye wat net 7 persent bestee het en geslagsgelykheid en kinderwelsyn wat net 18 persent bestee het. Talle ander ministeries soos sport, binnelandse sake, water, vervoer en meer het beter gevaar. Kapitaalprojekte is uiters belangrik omdat dit geld terug in die ekonomie sit en werk skep.