Ons word niks gesê nie – ouers van studente in Oekraïne

Ouers van Namibiese studente in die Oekraïne sê hulle word in die duister gelaat oor die veiligheid van hul kinders en sê daar is geen kommunikasie oor die veiligheids- en repatriasieplan van die Namibiese regering nie. Die groep het aan nuusagentskappe gesê daar is geen amptelike kommunikasie wat die regering se verbintenis of reaksie aandui nie en dat hulle as ouers oorgelaat word aan hul individuele vermoëns en pogings om hul kinders op te spoor en veiligheid vir hulle in naburige Europese lande te soek. Intussen het die ministerie ‘n opdatering gegee van waar die 92 studente hul bevind en die meerderheid, ongeveer 70, was teen gistermiddag steeds in die Oekraïne.