Ons dink dis normaal om in vuil omgewings te leef

Die Namibiese minister van die omgewing Pohamba Shifeta sê Namibiërs het vuil omgewings genormaliseer en woon daarin asof daar niks daarmee fout is nie. Shifeta, wat gepraat het op die internasionale Wêreldskoonmaak-dag wat oor die naweek herdenk is sê rommel en vullis van alle soorte, wat mediese-, industriële en huishoudelik afval insluit besoedel die land en is ook skadelik vir Namibië se wildlewe. Hy sê daar is kommer oor inwoners se gesondheid, sowel as die veiligheid van waterbronne. Hy voeg by dat die regering op die stadium ‘n algehele verbod op plastiek oorweeg veral omdat plastiek oral voorkom, ook in rivierbeddens en meer.