Onluste: Zuma se dogter word ondersoek

Oudpresident Jacob Zuma se dogter word in verband met die Julie-onrus ondersoek, maar sy is nie een van die 20 beweerde opstokers wat die Valke in hegtenis geneem het nie. Die vermeende aanhitsers staan tereg op aanklagte van sameswering om openbare geweld te pleeg, aanhitsing om openbare geweld te pleeg en brandstigting. Die hoof van die Valke in KwaZulu-Natal, generaal-majoor Lesetja Senona, wou nie kommentaar lewer oor enige van die beskuldigdes voor hul verskyning in die Durbanse landdroshof nie. Hy sê Zuma se dogter Dudu Zuma-Sambudla, word ondersoek omdat daar ‘n beëdigde verklaring teen haar afgelê is. Hy wou geen verdere besonderhede bekend maak nie.