Ongeluk van Sweedse kunstenaar nie verdag, maar word ondersoek

Die Sweedse polisie beskou die motorongeluk waarin die omstrede plaaslike kunstenaar Larks Vilks gesterf het nie as verdag nie, maar het beloof om seker te maak hulle ondersoek alles deeglik. Die 75-jarige Vilks en sy twee polisie-lyfwagte het gesterf toe hul motor gister teen ‘n vragmotor gebots het. Hy was sedert 2007 onder polisiebeskerming nadat sy sketse wat die profeet Mohammed met die liggaam van ‘n hond uitbeeld, woede in die Moslem-gemeenskap ontketen het. Vilks het doodsdreigemente ontvang, ‘n beloning is vir sy lewe aangebied en sy huis is met ʼn petrolbom bestook.