Ondersoek na voëlgriep na 200 kormorante by Walvisbaai vrek

Die direktoraat van veeartseny in die Namibiese landbouministerie het amptelik bevestig dat die uitbreek van voëlgriep onder seevoëls langs die kus van Walvisbaai ondersoek word. Dit volg na vrektes van meer as 200 kormorante en twee pelikane by Bird Island en die soutwerke by Walvisbaai sedert verlede week waargeneem is. Die kantoor van die staatsveearts het reeds monsters geneem wat op die oomblik ontleed word. Die siekte hou ‘n baie groot risiko vir die land in omdat persone wat aan die voëls gevat het ander voëls kan besmet. Die publiek word gevra om dadelik die naaste staatsveearts te kontak indien dooie voëls opgemerk word. Die behandeling van siek voëls teen voëlgriep word verbied in Namibië.