Ondersoek na Shikongo-ongeluk vorder

Plaaslike media berig dat die ondersoek na die ongeluk waarin die inspekteur-generaal van die Namibiese polisie, luitenant-generaal Joseph Shikongo, einde verlede jaar betrokke was en waarin drie mense dood is, vorder. Die ongeluk het op 30 Desember op die Ondangwa-Oshikango-hoofpad plaasgevind en ’n saak van strafbare manslag en roekelose bestuur is op dieselfde dag teen Shikongo geopen. ‘n Ondersoekspan is saamgestel onder leiding van die Erongo-bevelvoerder, kommissaris Nikolaas Kupembona. Verskeie verklarings is reeds afgeneem en die voertuie wat betrokke in die ongeluk was, is ook deel van die ondersoek. Wanneer dit voltooi is sal die verslag oorhandig word aan die kantoor van die aanklaer-generaal vir ‘n besluit. Sou daar beslis word Shikongo moet vervolg word sal die gewone hofproses toegepas word.