Ondersoek kom na wetstoepassers se optrede tydens skietvoorval by skool in Texas

Die Amerikaanse departement van justisie het bevestig hy gaan ondersoek instel na wetstoepassers se reaksie tydens die skietvoorval by Robb Elementary School in Uvalde, Texas. Negentien leerders en twee onderwysers is verlede Dinsdag doodgeskiet. Dit het aan die lig gekom dat polisiebeamptes in die gang gewag het terwyl vasgekeerde kinders desperaat oproepe na 911 gemaak het. ‘n Woordvoerder van die departement van justisie, Anthony Coley, sê die doel van die ondersoek is ook om lesse en beste praktyke wat geleer is, te identifiseer en om beamptes wat eerste op ‘n toneel aankom, voor te berei hoe om op skieters te reageer.