Onderhandelings met die staat oor salarisse loop op dooiepunt uit

Vakbonde wat staatsamptenare verteenwoordig sê salarisonderhandelings met die regering het op ‘n dooiepunt uitgeloop. Die gesprekke duur reeds sedert Februarie 2021. Die kwessie is volgens berigte reeds oorhandig aan die kantoor van die arbeidskommissaris vir bemiddeling. Napwu en Nantu het reeds ‘n dispuut verklaar. Die vakbonde vra vir ‘n 10 persent verhoging sowel as 25 persent op behuisingsubsidies, 9 persent op behuisingsvoordele, 10 persent op vervoer en 7 dollar per kilometer. Die regering oorweeg dit volgens berigte glad nie. Die begrotingstekort is steeds onveranderd sedert die middeltermyn begroting en die minister van finansies het reeds gesê daar is geen geld nie vir verhogings nie. Dit is reeds sewe jaar sonder enige salarisaanpassings. Die salarisstaat van die regering beslaan ongeveer 50 persent van die begroting.