Onderhandelinge oor salarisverhogings vir staatsamptenare bereik amptelik ‘n dooiepunt

Volgens die Namibiese Vakbond vir Staatsdienswerkers, Napwu, en die Namibiese Nasionale Onderwysersunie, Nantu, het onderhandelinge oor salarisverhogings,die eerste in vyf jaar, nou amptelik ‘n dooiepunt bereik. Napwu se algemene sekretaris, Petrus Nevonga, het aangekondig dat die kantoor van die arbeidskommissaris ’n sertifikaat van ‘n onopgeloste geskil uitgereik het. Nantu se sekretaris-generaal, Loiude Shaanika, was ook teenwoordig. Die vakbonde sal hul lede nou nader oor die pad vorentoe. Nevonga sê ‘n meerderheidstem sal nodig wees vir enige plan van aksie, wat ‘n staking kan insluit. Die vakbonde was nie tevrede met die regering se jongste aanbod vir beter vervoer- en behuisingstoelae vir 2022/2023 nie. Die regering hou voet by stuk daar is tans geen geld vir algemene salarisverhogings nie.