Omstrede Aussie-tennisspeler tree in die bres vir Djokovic

Die Australiese speler Nick Kyrgios het tot die tenniswêreld se verbasing vir die nommer een speler, Novak Djokovic, in die bres getree. Dit volg nadat Djokovic se visum vandeesweek met sy aankoms in Australië vir die Australiese Ope teruggetrek is omdat hy nie aan die land se Covid-reisvereistes voldoen nie. Internasionale nuusagentskappe berig dat Kyrgios Australië se optrede as “baie sleg” beskryf het en die owerheid gevra het om “beter te doen”. Kyrgios was sover een van Djokovic se felste kritici en het hom verlede jaar uitgeskel oor sy teenkanting teen Covid-inentings.