Olifante teister boere in Kavango Wes

Kleinskaalse boere in die Ndonga-Linena kiesafdeling in die Kavango Wes-streek gaan gebuk onder konflik met olifante. Die raadslid vir die kiesafdeling Michael Kampola sê talle landerye is verwoes en daar blyk om geen einde te wees nie. Kampola sê die sake is reeds almal aangemeld by die omgewingsministerie en beamptes het reeds die skade kom ondersoek, maar geen betalings om die boere te kompenseer is gemaak nie. Volgens berigte sê die ministerie se woordvoerder Romeo Muyunda hy is nie bewus van die insidente nie maar het bygevoeg dat talle van die boere opstalle oprig op die roetes wat die olifante gebruik. Hy sê dit is nou die droë seisoen en die diere loop na water toe. Hulle wyk nie van hul roetes af nie en daarom kom die konflik voor. Hy sê die gemeenskap het ook ‘n verantwoordelikheid om ‘n rol te speel  in die bekamping van konflik met diere.