Oliepryse ry wipplank, nes Covid in China

Oliepryse het vanoggend gestyg, wat die winste van die vorige sessie verleng het, maar net vir ‘n tydjie. Dit kom na China sommige van sy streng Covid-protokolle gelig het, wat die hoop op ‘n herstel in ekonomiese aktiwiteit en vraag by die wêreld se voorste ru-invoerder aangevuur het. Kommoditeitspryse het reeds Vrydag gestyg nadat China se Nasionale Gesondheidskommissie sy Covid-voorkomings- en beheermaatreëls aangepas het. Maar gevalle het die naweek in China geklim. Kenners meen die mark was te optimisties omdat Covid vinniger versprei in die winter en die vinnige groei van gevalle maak dit onmoontlik vir die Chinese regering om die nul-Covid-beleid aan te pas. Olie het vroeër vandag op amper 97 Amerikaanse dollar ‘n vat verhandel maar het reeds teruggesak na net bo 95 dollar.