Olie gaan nog hoër…

Amerikaanse handelaars in die land se grootste oliesentrums het invoere van Russiese oliemaatskappye gestaak, al het die Withuis gesê dat Russiese olieverkope nie die teiken van sanksies is nie. Die reaksie van die handelaars het die prys van olie nog verder opgestoot en Brent verhandel tans net onder 110 Amerikaanse dollar ‘n vat. Rusland het reeds verkoopkontrakte met China gesluit en verkoop sy olie daar. Van die handelaars sê dat niemand gesien wil word om Russiese produkte te koop terwyl daar ‘n oorlog in die Oekraïne is nie. Rusland is een van die wêreld se grootste petroleumuitvoerders en stuur 4 tot 5 miljoen vate olie per dag en 2 tot 3 miljoen vate, ook daagliks, se verfynde produkte na ander markte. Ekonome het reeds aan Kosmos 94.1 Nuus voorspel dat olie rondom 110 dollar ‘n vat sal verhandel. Dit sal verdere opwaartse druk op die brandstofprys plaas.