Ohangwena-span stel ondersoek na efundja-waters in

‘n Gesamentlike span onder leiding van die Ohangwena-goewerneur Walde Ndevashiya is in die Engela-kiesafdeling om die situasie van die efundja, wat Vrydag die grens na Namibië oorgesteek het, te bepaal. Die vloedwater het reeds die Engela-Okalongo-pad oorgesteek. Lede van die publiek word gemaan om nie in die water te loop nie omdat daar gevare is, soos slange en moontlik ook krokodille. Snags is die vol oshanas ook baie gevaarlik en jaarliks verdrink talle mense, veral skoolkinders, omdat dit moeilik is om die diepte van die oshanas te bepaal. Daar is tot dusver geen skade aan paaie of huise gerapporteer nie. Terwyl die efundja heelwat voordele het, is daar ook gevare soos malaria en cholera wat kan vookom. Angolese media berig oor swaar reënval in die suidelike Cunene-provinsie en dat die water op pad is na die Cuvelai-bekken in Namibië.