Oekraïne: Markte tuimel, goud en olie styg skerp

Asiatiese markte het vandag skerp gedaal maar olie en goud het op hul beurt gestyg nadat die Russiese president, Vladimir Putin, soldate ontplooi het in twee separatistiese streke in Oos-Oekraïne. Brent ru-olie verhandel steeds bo 95 Amerikaanse dollar ‘n vat, terwyl goud net meer as 1 900 Amerikaanse dollar per fyn ons kos. Die stap deur Putin het geopolitieke spanning en vrese vir konflik verhoog. Beleggers is skrik op die lyf gejaag nadat Putin die onafhanklikheid van twee rebellebeheerde gebiede, Donetsk en Lugansk, erken en sogenaamde vredesmagte ingestuur het. Die Amerikaanse president, Joe Biden, Emmanuel Macron van Frankryk en die Duitse kanselier, Olaf Scholz, waarsku Moskou se skuif sal nie onbeantwoord bly nie en sanksies sal volg.