Oekraïne gebruik biometriese tegnologie op brutale manier

Berigte lui dat Oekraïnse amptenare meer as 8 600 biometriese opmetings op dooie of gevange Russiese soldate uitgevoer het, in die 50 dae sedert Moskou se inval begin het. Dit is blykbaar met die doel om die persone te identifiseer en honderde van hul families te kontak om hul in kennis te stel. Kenners meen dit is tot op hede, een van die grusaamste toepassings van die tegnologie is. Die land se IT-weermag, ‘n vrywillige mag van kuberkrakers en aktiviste wat sy leiding van die Oekraïnse regering neem, sê 582 dooie Russiese soldate se families is so ingelig, met foto’s wat ook gestuur is. Die Oekraïners sê dit is ‘n brutale maar doeltreffende manier om onenigheid binne Rusland aan te wakker, ander vegters te ontmoedig en ‘n einde aan ‘n verwoestende oorlog te bring. Maar sommige militêre- en tegnologie-ontleders is bekommerd dat die strategie eerder woede kan aanblaas. Een ontleder meen as die rolle omgekeer was en Rusland het sulke foto’s aangestuur sou dit as barbaars beskryf word.