Oekraïne: Brittanje stuur wapens, VN veroordeel hospitaal-aanval

Die Verenigde Koninkryk het aangekondig hy gaan meer wapens aan die Oekraïne voorsien om die land te help om homself te verdedig teen die Russiese aanval. Die minister van verdediging, Ben Wallace, sê Brittanje gaan 1 615 ligte teen-tenk-missiele voorsien, bykomend tot die 2 000 wat vroeër gelewer is. Hy sê die Verenigde Koninkryk gaan ook ‘n klein besending langer-afstand-Javelin-missiele en oppervlak-tot-lug-missiele lewer. Wallace sê die regering ondersoek ook die moontlikheid om hoë-spoed Starstreak bemande draagbare teen-lug missiele te stuur. Intussen het die Verenigde Nasies se sekretaris-generaal, António Guterres, die Russiese lugaanval op ‘n hospitaal met kraam- en kindersale in Mariupol, Oekraïne, as afgryslik beskryf. Minstens 17 mense wat personeel en pasiënte insluit, is beseer. Guterres sê burgerlikes betaal die hoogste prys vir ‘n oorlog wat niks met hulle te doen het nie. Hy sê die sinnelose geweld moet stop. Oekraïne se President Volodymyr Zelensky het die lugaanval op die hospitaal ‘n gruweldaad genoem.