Nuwe Omikron-subvariant in Suid-Afrika bevestig

Die eerste geval van ‘n nuwe Covid-subvariant is in Suid-Afrika bevestig. Die XBB.1.5-subvariant word beskryf as die aansteeklikste tot nog toe. Die departement van gesondheid sê hulle is tans in gesprek met wetenskaplikes om meer inligting oor die subvariant in te samel. Die hoof van die genomika-waarnemings-netwerk by die Universiteit van Stellenbosch, professor Tulio de Oliveira, het die eerste geval op Twitter bevestig. Hy sê geen hospitalisasies of sterftes het nog in Suid-Afrika voorgekom nie. Die XBB.1.5, ‘n Omikron-subvariant, is reeds in 28 lande geïdentifiseer. Dié subvariant is tans verantwoordelik vir meer as 40 persent van Covid-gevalle in Amerika.