Nuwe borgaansoek vir Amushelelo, Nauyoma

Die twee omstrede aktiviste Michael Amushelelo en Dimbulukeni Nauyoma bring vandag ‘n nuwe formele borgaansoek in die Katutura-landdroshof. Die hofsaak van die twee en ses ander beskuldigdes is tot 28 Julie uitgestel vir uitstaande ondersoeke om afgehandel te word. Hulle staar verskeie klagte wat aanhitsing tot openbare geweld, betreding en aanranding insluit, in die gesig nadat hulle amok in Chinatown gemaak het. Hulle is op 24 Mei na ‘n formele borgaansoek borg geweier maar, hul regsverteenwoordigers het nuwe feite en dus is hulle toestemming gegun om weer ‘n borgaansoek in die hof te bring. Die twee is sedert 12 en 13 Mei in aanhouding.