Nuwe benadering in stryd teen olifantstropery

Wetenskaplikes gebruik DNS-toetse om te bepaal hoe ivoorsmokkelaars in Afrika te werk gaan. Elke jaar word omtrent 500 ton gestroopte olifanttande uit Afrika verskeep, meestal na Asië. Afrika se olifantbevolking word vinnig minder. ‘n Eeu gelede was daar omtrent vyf miljoen olifante, terwyl die getal tans op ongeveer 415 000 staan. Navorsers kombineer nou olifant-DNS-data en forensiese bewyse om ivoorsmokkelary regoor Afrika te volg. Hulle werk saam met die Interpol-werkgroep vir wildlewe-misdaad en hoop om dié onwettige bedrywighede te stop.