Nust, Shackdwellers vergader op Okahandja

Nust se departement van grond- en eiendomswetenskappe het met inwoners van Promise Land op Okahandja vergader om navorsing te doen in verband met informele nedersettings, en die uitdagings om die nedersettings te formaliseer en die erwe in die eienaar se naam te registreer te bepaal. Die Shack Dwellers-federasie was ook daar. Die organisasie behaal groot sukses regoor die land en het op Okahandja ondersoek ingestel oor of die model wat hy op Otjiwarongo gebruik het ook by Promise Land sal werk. Die federasie doen aansoek vir grond by die betrokke munisipaliteit en is ‘n lid-aangedrewe bouprojek. Okahandja het nes alle dorpe regoor die land uitdagings met plakkers en informele nedersettings wat geen dienste het nie. Nust sê die inwoners het dieselfde eise as ander regoor die land – eienaarskap en die voorsiening van water en elektrisiteit.