Noord-Korea het ‘koors’ oorwin

Noord-Korea het vandag vir die eerste keer geen nuwe “koorsgevalle” aangemeld sedert sy erkenning middel Mei van ‘n Covid-19-uitbreking in die land nie. Staatsbeheerde media het vroeër vandeesmaand gesê hy is op pad om sy eerste Covid-krisis te oorkom, selfs al ervaar sy buurlande ‘n herlewing in infeksies wat deur Omikron-subvariante aangedryf word. Die amptelike KCNA-nuusagentskap het gesê 99,99 persent van sy 4,77 miljoen koorspasiënte sedert einde April het ten volle herstel, maar weens ‘n oënskynlike gebrek aan toetsing het hy geen syfers bekend gemaak oor mense wat positief vir die virus getoets het nie. Kenners van aansteeklike siektes twyfel Noord-Korea se aansprake van vordering, met die Wêreldgesondheidsorganisasie wat verlede maand gesê het hy glo die situasie word erger, nie beter nie.