Nóg twee witrenosters op dieselfde plaas by Gobabis gestroop

Nóg twee karkasse van witrenosters is op dieselfde plaas in die Gobabis-distrik gevind waar ‘n witrenosterbul verlede week gestroop is. Beamptes van die omgewingsministerie is op die plaas om ondersoek in te stel. Intussen het die woordvoerder van die ministerie, Romeo Muyunda, aan Kosmos 94.1 Nuus bevestig dat ses witrenosters ook onlangs in die Grootfontein-distrik gestroop is. Net die week, is twee witrenosters in die Outjo-distrik gestroop en een gekwes, en een witrenoster in die Okahandja-distrik gestroop. Altesaam 38 renosters is dus al vanjaar in Namibië gestroop.