Nog beroepe dat Recon sy eksplorasie staak

Burgerlike gemeenskappe, beide plaaslik en oorsee, doen ‘n beroep op owerhede om ondersoek in te stel na ReconAfrica se bedrywighede in die Kavango-bekken. Volgens berigte het meer as 120 burgerlike groepe in Namibië reeds hulle kommer oor die bedrywighede uitgespreek en die regering gevra om dit onmiddellik te staak. Recon hou voet by stuk dat hy met alle gemeenskappe wat deur die eksplorasiewerk geraak word, gekonsulteer het maar volgens verskeie groepe in die Zambezi-streek is hulle nog nie een keer gekontak of genader nie. Volgens dr. Chris Brown van die Kamer van die Omgewing het die Internasionale Unie vir die Bewaring van die Natuur onlangs beslis dat die Okavango-delta van enige olie of gas eksplorasie beskerm moet word. Die kwessie is baie omstrede veral met klimaatsverandering wat onder die loep is en olie as energiebron volgens internasionale kenners uitgefaseer moet word.