Nog 6 skole in Whk sluit oor Covid

Luidens die jongste berigte is die Suiderhof Laerskool gesluit tot môre nadat twee bestuurslede van die skool positief getoets het vir Covid. Intussen sal Jan Mohr eers Donderdag heropen na gevalle onder leerders bevestig is en Hochland Hoërskool sal op sy beurt eers Vrydag heropen nadat ses gevalle by die skool bevestig is. Windhoek Hoërskool het ook gesluit en maak eers Maandag weer oop vir klasbywoning nadat daar ook Covid-gevalle voorgekom het. Augustineum hervat ook môre weer klasbywoning na ‘n onderwyser positief getoets het vir Covid. St Georges hervat eers weer op 21 Junie klasbywoning. Die uitvoerende direkteur van die ministerie van onderwys, Sanet Steenkamp sê sedert skole heropen het is daar 165 onderwysers en 527 leerders wat positief getoets het vir Covid.