NNFU-lede vergader die week op Otji

Meer as 100 lede van die Namibia National Farmers’ Union vergader tot Vrydag op Otjiwarongo om die unie se nuwe vyf jaar strategiese plan te bespreek en beleide te hersien. Altesaam 104 afgevaardigde lede, agt lede uit 13 streke is teenwoordig. Die unie verteenwoordig kommunale en ontluikende boere. Otjozondjupa-goewerneur James Uerikua het ‘n beroep op boere gedoen om te beraadslaag oor die onderwerpe van ekonomiese boerdery in die noordelike kommunale gebiede sodat boere daar ook kan bydra tot voedselsekerheid in Namibië. Uerikua het lede ontmoedig om vee op die hoef uit te voer, aangesien dit beteken dat hulle in realiteit werksgeleenthede plaaslik ontneem, in plaas daarvan om hul vee aan Meatco te verkoop. Hy het vertroue in Meatco se toekomsplanne uitgespreek en sê die ondersteuning van boere is nodig om die maatskappy se sakemodel te laat herleef.