NLU het kommer oor olifant-getalle

Volgens ’n ondersoek na olifantgetalle deur die Namibiese omgewingsministerie het die olifantbevolking gegroei van 7 000 in 1990 tot 30 000 in 2016, met ’n beraamde 35 000 diere tans – dus ’n vyfvoudige groei in getalle. Dit sluit nie noodwendig die vry-bewegende olifante uit Botswana in nie. Talle meen die situasie is nie volhoubaar nie en insidente van konflik neem toe. Die Namibiese Landbou-unie sê ander dierespesies se habitat is onder druk en ook die kommersiële landbousektor kom onder skoot. ‘n Beraamde 72 persent van Namibië se bevolking is direk of indirek afhanklik van landbou so die belangrikheid van die sektor kan nie onderbeklemtoon word nie. Naas mynbou is landbou die grootste verdiener van buitelandse valuta en die grootste werkverskaffer in ’n land met ’n werkloosheidsyfer van 48 persent.