Nieu-Seeland bevestig gemeenskapsoordrag van Omikron

Nieu-Seeland se eerste geval van gemeenskapsoordrag van Covid-19 se Omikron-variant is in Auckland opgespoor. Die land se ministerie van gesondheid sê ‘n volledig ingeënte persoon wat op ‘n vlug van die Verenigde Koninkryk aangekom het, het twee dae in Auckland deurgebring voordat die infeksie opgespoor is. Die persoon het glo ‘n nagklub, kroeg, Chinese restaurant en ‘n juwelier besoek. Die ministerie sê gesondheidsbeamptes probeer tans alle ander naby kontakte wat aan hulle bekend is, te identifiseer en te nader, om te verseker dat hulle isoleer, en ook getoets word.