NHE-werknemers staak die week, talle klagtes

Ontevrede werknemers van die Nasionale Behuisingsonderneming beweer dat die huidige bestuur misluk het om die prestasie van die instelling finansieel, sowel as operasioneel, te verbeter. Die werknemers staak die week. Hulle sê die maatskappy het so ver agteruit gegaan dat hy totaal en al relevansie verloor het. In ‘n petisie sê hulle dat sedert 2016, die instelling slegs 600 huise gebou het teenoor die teiken van 6 250 tot en met 2021. Hulle beweer verder dat die onderneming se leningsboek, wat die hoofbron van inkomste is, daagliks krimp met min nuwe lenings wat bygevoeg word en dus is daar kommer oor die volhoubaarheid van die maatskappy. Hulle eis ook ‘n eenmalige aanpassing van 60 persent op hul basiese salaris in plaas van die jaarlikse salarisverhoging van 3,4 persent wat tussen die bestuur en die vakbond tydens onderhandelinge in Februarie 2022 ooreengekom is.