Ndeitunga bring hulde aan Pool

Die hoof van die Namibiese polisie luitenant-generaal Sebastian Ndeitunga het sy medelye uitgespreek na die afsterwe van die afgetrede generaal-majoor Marthinus Albertus Pool. Luidens ‘n verklaring wat deur Ndeitunga uitgereik is, het Pool na Namibiese onafhanklikheid by die mag aangebly en gehelp om die Namibiese polisiemag te stig. Hy was ook die eerste adjunk-luitenant-generaal van die Namibiese polisie en het onder die destydse luitenant-generaal Pieter Fouche en later Jesaya Andima gedien. Pool het in 2002 uit daardie pos afgetree. Ndeitunga sê hy sal onthou word vir sy verbintenis tot geregtigheid en veiligheid. Pool sal môre in Pionierspark begraafplaas begrawe word.