Navorsing: nou’s dit wéér anders met Omikron

Wetenskaplikes het wéér ‘n ommekeer gemaak met nuwe bevindings dat Omikron eintlik minder gevaarlik is as Delta. Die aankondiging kom minder as ‘n week na navorsing deur die Britse Imperial College wat bevind het dat daar geen bewyse is dat ‘n Omikron-infeksie ligter is as Delta nie. Hulle het ook bevind dat die kanse van ‘n Omikron-infeksie vyf keer hoër is as met Delta. Dié keer sê die Britse Gesondheidsekuriteit-agentskap dat persone wat Omikron opdoen tussen 50 en 70 persent minder geneig is om hospitaalsorg te benodig. Die agentskap sê die uitslae is belowend maar, dat mense steeds opgeneem kan word en aan die variant sterf. Volgens die studie kan persone wat ‘n versterkdosis geneem het, 10 weke later makliker besmet word met Omikron maar, dat beskerming steeds beter is as geen versterkdosis. Dié studie se uitslae stem ooreen met bevindings in Suid-Afrika, Skotland en Denemarke.