Nasionale Vergadering tot 6 September in reses

Die Nasionale Vergadering gaan tot 6 September in reses. Die Namibiese parlement het oor vyf wetsontwerpe gedebatteer en 27 kennisgewings van vrae is ter tafel gelê, waarvan 22 verval het en vyf behandel is. Boonop is 15 mosies, sowel as verskeie komiteeverslae ook hanteer. Die vyf wetsontwerpe wat deur lede van die Nasionale Vergadering hanteer en goedgekeur is, het die Wetsontwerp op Toegang tot Inligting ingesluit, wat met wysigings van die Nasionale Raad aangeneem is. Die Wysigingswetsontwerp op die Bekamping van Verkragting is ook met wysigings aanvaar, terwyl die Wysigingswetsontwerp op die Bekamping van Gesinsgeweld sonder wysigings aangeneem is. Die Wysigingswetsontwerp op Openbare Verkryging is met wysigings van die Nasionale Raad aanvaar, terwyl die Metrologie-wetsontwerp sonder wysigings aangeneem is.