Nasionale Erfenisraad van Namibië wil Witbooi Einde tot erfenisgebied

Die Nasionale Erfenisraad van Namibië het in ‘n openbare kennisgewing voorgestel dat Witbooi Einde as ‘n nasionale erfenisgebied verklaar word. Witbooi Einde is sowat 125km oos van Keetmanshoop naby Vaalgras in die Karas-streek geleë. Hendrick Witbooi /Nanseb is in 1830 gebore en was die hoofman van die grootste Nama-groep in Namibië wat teen Duitse koloniale magte geveg het. Die gebied waar hy in ‘n veldslag in 1905 gesterf het, staan bekend as Witbooi Einde. As geskiedkundige terrein, kan dit toeriste lok en werksgeleenthede vir die gemeenskappe van Vaalgras skep. Dudu Murorua, ‘n Namibiese politikus, het aan Kosmos 94.1 Nuus gesê hy ondersteun hierdie voorstel.