Napwu en NBC weer vandag in die hof

Die saak waar die openbare werkers vakbond Napwu die NBC dagvaar is weer vandag in die hof, die keer voor die adjunk regter-president Hosea Angula. Die aansoek, wat as dringend gebring word, meen dat die nasionale uitsaaier die bepalings van die September 2011 ooreenkoms wat hy met die vakbond het, oortree het. Intussen het die NBC Dinsdag die vakbond laat weet dat hy sy eksklusiewe onderhandelingstatus by die uitsaaier verloor het omdat hy nie meer die meerderheid van 51 persent lidmaatskap het nie. Dit beteken dat die ooreenkoms nie meer van krag is nie. Daar word berig dat die openbare diens vakbond, PSUN werkers tydens die onlangse staking finansieel bygestaan het. Hulle het sonder betaling gestaak. Op die oomblik is die Napwu-lidmaatskap by die uitsaaier op 45,5 persent.