Namibiese premier geskok oor oud-president van Angola se dood

Namibiese eerste minister Saara Kuugongelwa-Amadhila was geskok toe sy die nuus hoor van die voormalige Angolese President, José Eduardo dos Santos, wat in die ouderdom van 79 in ‘n hospitaal in Spanje gesterf het. Dos Santos het Angola vanaf 1979 vir byna 40 jaar regeer. Hy het sedert sy uittrede in 2017 meestal in Barcelona gewoon. Angola het vyf dae van rou afgekondig, wat vandag begin. Die land se vlag sal halfstok hang en openbare geleenthede is gekanselleer. Dos Santos het aan bewind gekom vier jaar ná Angola se onafhanklikheid van Portugal. Penda Nanda, die uitvoerende direkteur in die ministerie van internasionale betrekkinge, sê sy kantoor het nog nie die nuus amptelik van hul Angolese eweknie ontvang nie.